Terapie

Ons multidissiplinêre span ondersteun elke leerder se ontwikkeling.

Amari Skool het 'n multidissiplinêre span wat saam met die onderwysers werk om elke leerder se potensiaal maksimaal te ontwikkel.

Arbeidsterapie

Arbeidsterapeute maak gebruik van wetenskaplik-gebaseerde, betekenisvolle aktiwiteite om, in samewerking met die ander multidissiplinêre spanlede en die onderwyspersoneel, die leerders van die skool se potensiaal maksimaal te ontwikkel op die volgende gebiede: skolastiese funksionering, werkvoorbereiding, spel, rekreasie, persoonlike onafhanklikheid en sosiale vaardighede.

Die aktiwiteite fokus sterk op sensoriese integrasie, fyn-motoriese ontwikkeling, handvaardigheid en werksvoorbereiding. Daar is tans twee arbeidsterapeute werksaam by die skool. Leerders word in groepe sowel as individueel geassesseer en behandel.

Spraakterapie

Spraakterapeute is opgelei om met kinders te werk wat spraakverwante afwykings het. Spraakterapie speel 'n belangrike rol in die holistiese ontwikkeling van 'n kind.

Die hoofdoel van terapie is om 'n kind se algehele kommunikasie en sosiale vaardighede te verbeter en 'n kind in staat te stel om in hul daaglikse lewe te kan funksioneer. Daar is tans een spraakterapeut werksaam by die skool.

Fisioterapie

Die hoofdoelwit van fisioterapie is om die kind te help om sy hoogste potensiaal te bereik, byvoorbeeld om te kan loop.

Die fisioterapeute gee ook die nodige ondersteuning ten opsigte van toepaslike apparaat en hulpmiddels, soos rolstoele, looprame en spalke.

Psigometris en Spelterapeut

Psigometriese toetse word deur die psigometris gebruik om die kind se intelligensievermoë te bepaal, asook leerprobleme soos disleksie te identifiseer.

Spel kan gesien word as die universele taal van kinders reg oor die wêreld. Kinders gebruik spel op dieselfde manier as wat volwassenes woorde gebruik — om te kommunikeer. Spelterapie is 'n terapeutiese benadering waar die terapeut van verskeie speltegnieke soos poppe, stories, klei, speletjies, kunsmateriaal en rollespel gebruik maak ten einde die kind te help om emosies effektief uit te druk en te hanteer.

Terapie in Aksie

Sien galery →
Leerder met bokshandskoene oefen saam met 'n terapeut by 'n boksak

Beweging en koördinasie

Leerder bou 'n legkaart tydens 'n terapiesessie saam met 'n terapeut

Fyn-motoriese aktiwiteite

Terapeut werk een-tot-een met 'n leerder met behulp van prentkaarte

Een-tot-een sessie